Koos sien 'n advertensie in die Landbouweekblad waar 'n boer tenders inwag vir iemand om die luiperds op sy plaas te vang en na 'n wildreservaat te verskuif. Hy besluit om te tender, en omdat hy toe verreweg die goedkoopste is, kry hy die job.
Die volgende dag daag hy by die plaas op met 'n bakkie, 'n foxterriër, ou Jonas, 'n spul streepsakke en 'n .22 geweer. Die boer lyk maar skepties, maar aan die einde van die dag lê daar 12 luiperds in streepsakke, reg om vervoer te word.
Die boer is beïndruk en vra of hy die volgende dag kan saamry om te kyk hoe Koos dit doen. Dit werk toe so: sodra hulle 'n luiperd sien, jaag hulle hom in die naaste boom op met die bakkie. Koos klim agterna, en soos die luiperd grom en na hom klap, grom en klap Koos terug totdat hy die luiperd op die dun takke vasgekeer het.
Wanneer die tak dan padgee en die luiperd grond toe val, gryp die foksterriër hom aan die knaters en hou vir al wat hy werd is terwyl Jonas hom in die streepsak toebind.
"Maar waarvoor is die .22 dan?" wil die boer weet.
"Jong," sê Koos, "so met die heen-en-weer gegrom en geklappery kan dit dalk gebeur dat EK uit die boom val. En dan moet Jonas die .22 gebruik om die foksterriër te skiet..."