Buks Viljoen Beeld 13 Oktober 2010
“Toe hy my met die vuis in die gesig slaan, toe bliksem ek hom terug!”
So vertel me. Liezl van Lelyveld (26) nadat sy gister in haar groentewinkel in Bethal in ’n vuisgeveg met ’n doeane-en-aksyns-amptenaar betrokke was.
Drie amptenare het by die Banana Box-groentewinkel ingekom en gesê hulle wil ’n inspeksie daar doen. Hulle was glo besig met ’n optrede om na onwettige sigarette te soek.
“Ek is Vrydagaand in die winkel beroof en was dus baie skrikkerig toe die drie sê hulle wil na ons voorraad kyk.
“Alhoewel hulle in uniform was, het ek gevra hulle moet hulle eers identifiseer. Twee van die amptenare het dit gedoen, maar die derde was baie hardegat.
“‘My naam is Mr. F**k You,’ het die man geskree. Toe ek hom vra om die winkel te verlaat, het hy my met die vuis in die gesig geslaan.” Van Lelyveld het hom teruggeslaan en in die geveg het albei op die vloer beland.
Mnr. Adrian Lackay, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, het gesê hulle weet nie van die voorval nie, maar beskou dit in ’n baie ernstige lig. Hulle sal vandag met ’n indringende ondersoek daarna begin.