'Gay' gidshond kry trekpas by eetplek
2010-04-28 16:00
Sydney - 'n Australiese restaurant wat 'n blinde man toegang geweier het omdat 'n kelner gedink het die hond is gay, is beveel om hom om verskoning te vra en vergoeding te betaal.
Ian Jolly is gesê hy kan nie sy gidshond, Nudge, in Thai Spice in Adelaide inbring nie omdat 'n personeellid beswaar daarteen gehad het, berig The Sunday Mail.
Thai Spice se eienaars sê daar was 'n misverstand tussen Jolly se vroulike metgesel en 'n kelner wat gedink het die vrou sê sy wil 'n "gay hond in die restaurant bring".
Jolly het eintlik gesê hy wil 'n "guide dog" (gidshond) inbring.
"Die personeel het gedink Nudge is 'n gewone hond wat ontseks is om 'n gay hond te word," het die eienaars in 'n verklaring aan die Suid-Australiese tribunaal vir gelyke geleenthede gesê.
Dié tribunaal het Vrydag die restaurant beveel om $1 400 (sowat R10 000) aan Jolly te betaal en 'n geskrewe verskoning aan te bied omdat hulle teen hom gediskrimineer het.
Die restaurant het geweier om kommentaar te lewer.
Jolly het gesê hy is tevrede met die uitkoms van die saak.