Michelle Louw
Lewenslank.
Nou hoe lank is dit nou eintlik?
Ná amper 25 jaar se saamslaap op ’n matras moes my ma onlangs hul “lewenslank gewaarborgde” matras verruil vir ’n nuwe een.
Dis nie net mure wat ore het nie. Matrasse, kom ek toe agter, het ook ’n hele storie te vertel.
My pa se kant van die matras was letterlik hol gelê.
Hy het die manier gehad om saans op sy regtersy te lê en die blokkiesraaisel dan met sy linkerhand te doen.
Soms het my dogtertjie oor haar oupa se groot skouer gaan loer sodat oupa die woorde wat hy invul in prentjies vir haar kan teken.
Sy eenvoudige wekkerradio het eenkant gestaan en effense krap-krap musiek op die agtergrond gespeel - selfs terwyl hy reeds diep gesnork het in sy slaap.
Teen daardie tyd het my ma al ’n hele paar keer aan sy rug gestamp, maar nie eens ’n irriterende muskiet sou hom wakker maak nie.
Elke mens maak sy eie bed op. Of so lui die spreekwoord. Maar dit is nie heeltemal waar nie.
Vandat my pa nie meer lewe nie, maak my ma haar bed maar elke dag alleen op.
Vandag het dit my vir die eerste keer geraak hoe seer dit kan wees.
My pa se lyfreuk is nie meer op die matras nie. En dit is deesdae vir my ma ook net nodig om een kant van die bed op te maak.
Hoe doen mens dit ná 50 jaar se saamleef sonder om te verlang?
So, met die koop van ’n nuwe matras begin ’n nuwe hoofstuk. Maar die onthou bly.
Pa sou natuurlik gesê het die ou matras makeer niks nie. Doodtevrede.
Met die meeste dinge in die lewe was my pa tevrede.
Solank die vleis ordentlik gaar is en die sous lekker sout is, was hy tevrede.
Die enigste ander ding wat hy wou hê, was dat ons saam met hom na musiek luister.
Saterdae was dit boeremusiek, Sondaemiddae tranetrek-musiek en in die week alles van Leon Schuster tot Schubert.
Geen wonder ons ken nou nog die woorde van “Stellenbosse nonnatjie” nie !
En nou. Nou is naweke stiller. Noudat Pa ons nie meer vra om saam met hom na sy musiek te luister nie, nou mis ons dit.
Ek mis dit. Dit en ander goed.
As kind, onthou ek, het my pa ons nie juis toegelaat om in sy huiskantoor te peuter nie.
O jinne, dit was die lekkerste as my pa vir die week vir sake moes weggaan om in sy pypreuk-kantoor in te gaan.
Ou universiteitshandboeke met insekprentjies wat ruik soos geparste blomblare.
O tog, en die plastiek-ossewa en die klein groen John Deere-trekkertjie hoog op die boonste rak!
Groot belangstelling het altyd geheers in die Parkerpen-tannie wat met die omdraaislag haar bikini verloor.
Selfs die rooi gaatjiesmaker en die ringetjies-plakkers wat die papiergaatjies netjies hou, kon ons nie uitlos nie.
Die beste was pa se ou kassette. Honderde van hulle wat oor en oor gespeel is. Netjies in pa se handskrif op Kant A en Kant B gelys.
Ná al die jare het net die kassette oorgebly. Nie eens meer ’n bandmasjien wat Pa se musiek kan speel nie.
Nou het ek my eie iPod met honderde songs - gelys deur ’n rekenaar. Ek kies. Hy speel.
Ek luister, die meeste van die tyd alleen met oorfone... En wraggies, daar tussen my pa se ou goed van sy geen-ingang-kantoor kry ek sy ou rekenaar se luidsprekers. Vol stof, met selfs nog van sy vuil vingermerke.
Perfek versoenbaar, dié 19-toet-luidsprekers met my 2010-iPod.
So lê ek Sondagmiddag op die nuwe matras in my ma se kamer en luister sonder oorfone na ou musiek en verlang na my pa.
Lewenslank geborge.