Harare. – ’n Tradisionele geneser wat kabinetslede van pres. Robert Mugabe van Zimbabwe oortuig het sy kan diesel uit ’n klip tap, is die naweek hier aan bedrog skuldig bevind.
Rotina Mavhunga, wat ook die skuilnaam Nomatter Tagirira gebruik het, het in Maart 2007 ’n tenk agter ’n groot klip in die veld weggesteek, dit met diesel gevul en regeringsamptenare gekontak, is die naweek in die magistraatshof in Chinhoyi getuig.
Toe die amptenare gaan ondersoek instel, het ’n handlanger ’n kraan oopgedraai wat diesel teen die klip laat afloop het, het die staatsbeheerde The Herald gister berig.
Mugabe het destyds ’n taakgroep van sy kabinet na Chinhoyi gestuur om haar “wonderwerk” te ondersoek. Hulle het hom laat weet dat Zimbabwe se brandstoftekort iets van die verlede is.
Die Zimbabwiese regering en sakelui het toe glo sowat Z$500 miljard (sowat R7,5 miljoen) aan Mavhunga en haar skema bestee.
Sy is ontmasker nadat ’n tweede groep ministers op nog ’n ondersoek aangedring het.
Dit het intussen aan die lig gekom dat die land se registrateur-generaal, mnr. Tobaiwa Mudede, ook by die bedrogspul betrokke was.
Hy het volgens getuienis voor die hof 125F diesel aan Mavhunga verskaf.
Magistraat Ignatius Mugova het Mavhunga, wat voortvlugtig is, in haar afwesigheid skuldig bevind op aanklagte van bedrog en dat sy waninligting aan ’n regeringsamptenaar verskaf het.
Sapa-DPA Sy sal later vandeesweek gevonnis word