Die een lekker ding van ’n demonekrasie soos ons s’n is dat jy met al die duisende veldtogte en kruistogte teen dit en teen dat en die ander darem nog self kan besluit of jy daaraan wil deelneem en of jy jou suidelike dele daaraan wil afvee.
So sien ek die afgelope week daar word nou ’n internasionale Vleisvrye Maandag-veldtog van stapel gestuur in ’n poging om die wêreld se koolstofvoetspoor te verklein.
Ek ondersteun al ’n hele rits sake met baie verdienste, maar of ek enige dag sal kan oorleef sonder ’n ou vleisie weet ek darem nie so mooi nie.
Op ’n staproete is ek altyd die ou wat my tot die derde dag vrek dra aan ’n ou vleisigheidjie, en al eet ek soggens net ’n pinkiedun Weense worsie kan ek my moeilik ’n lewe sonder vleis voorstel.
Soos Dik Daan sê, hulle moet maar vir hom ’n koolfilter en ’n “silencer” laat inbou of VVB (vleisvretersbelasting) laat betaal vir sy koolstofspoor, maar groot asseblief net nie sy ou vleisie wegvat nie.
En so gepraat van veldtogte en kruistogte: Ek het gedink ek het omtrent alles gehoor totdat ek Dinsdag oor die nuus gehoor het dat dit daai dag internasionale hondsdolheidsdag is.
Sowaar!
Ek wil nou nie so ’n ernstige saak ligtelik opneem nie, maar hulle kon dit eerder op ’n Maandag gemaak het aangesien dit gewoonlik dan baie doller as op ’n Dinsdag gaan.
Dit laat my toe onwillekeurig dink aan die ou wie se dokter hom ingelig het hy het hondsdolheid onder lede, en toe hy ’n bietjie herstel het van die skok die dokter ’n pen en papier vra.
“Wil jy jou testament verander of ’n laaste boodskap skryf?” wil Dok toe simpatiek weet.
“Nee,” antwoord die ou, “ek gaan ’n lys maak van ouens wat ek vanmiddag wil gaan byt.”
Ja-nee, vriende, laat ons almal maar so met onse medemensies lewe dat jy nie op te veel ouens se bytlysies beland nie!
Toe ek hom vertel van doldag, vertel Ouboet Jan van Bethlehem (die plaaslike weergawe) van die ware storie van die oom wat daar in die Karoo op sy plaas deur ’n dol jakkalsie aan die kuit gebyt is en toe doodbenoud die tannie by die huis gaan opkommandeer om met hom dorp toe te jaag.
Toe die tannie die bakkie start, beveel die oom: “As ek snaaks begin raak, stop jy die bakkie en hardloop weg, al is dit sommer veld in,” en daar trek hulle dat die stof so staan.
Ná so twee, drie kilometer stop die tannie eensklaps en sê: “Ou man, ek moet in die pad kyk, wil jy nie maar eerder jou tande uithaal en vir my gee nie?”
Seker die beste manier om die byt uit ’n dollerige, happerige huwelik te haal, sou ek dink.
Dik Daan wys vir ons die storie van ’n Maleisiese plaaswerker, Shahimi Hamid, wat die nuwe wêreldrekordhouer geword het nadat hy binne drie minute ’n giftige 4,6 m lange koninginkobra 51 keer op die bek gesoen het.
Oom Johnny sê hy dink óf die slang was verlief op die ou óf hy het haar betaal vir haar dienste.
“As party van ons rugby- en krieketsterre maar eerder vir hulle troetelslange aanskaf as die Delilas wat saam met hulle op die voorblaaie pronk, sou hulle baie minder moeilikheid gehad het,” reken die oom.