Wellington – ‘n Man van Nieu-Seeland wat ‘n haas aan sy ore geswaai en in verbygangers se gesigte gedruk het nadat hy brandspiritus gedrink het, is Dinsdag met NZ$500 (R2 575) beboet.
Graham Paul Brown is skuldig bevind aan dieremishandeling in die Auckland streekshof ná die voorval wat in Februarie plaasgevind het.
Brown beweer dit was ‘n poging om mense in die stad te vermaak wat nog nooit ‘n haas gesien het nie.
Die 53-jarige het ook ‘n opgeskorte vonnis van ses maande ontvang nadat hy op ‘n polisiebeampte wat hom in hegtenis geneem het, gespoeg het.
Brown, wat die aanklagtes ontken, sê hy het ‘n noue verhouding met die haas ontwikkel. Hy het hom met ‘n wortel uit sy mond gevoer en die dier aan sy lyf ondersteun terwyl hy hom aan sy ore vasgehou het.
Verder het hy beweer dat ‘n ernstige longtoestand veroorsaak het dat hy onopsetlik op die polisieman gespoeg het nadat hy saam met ‘n vriend brandspiritus gedrink het.
Regter Greg Davis het sy bewyse verwerp, maar het hom onskuldig bevind aan wangedrag.
Diereregte-beamptes sê dat die haas aan stres gelei het, maar dat hy andersins geen skade opgedoen het nie.