Beeld: 22 Janaurie 2008
Vaaldam se visse vrek glo van herpes
Elise Tempelhoff
Elise Tempelhoff
Die koi-herpesvirus (KHV)* het waarskynlik gelei tot die massa-visvrekte in die Vaaldam verlede maand.
Mnr. Marius Keet, adjunkdirekteur van watergehaltebestuur by die departement van waterwese en bosbou, het gister gesê voorlopige uitslae dui daar- op dat massas karp (Cyprinus carpio) moontlik met KHV besmet was.
KHV is ’n hoogs aansteeklike virus en het net die karp, ’n uitheemse vis, in die Vaaldam aangeval. Dit is nie in hierdie stadium duidelik waar die virus vandaan kom nie. Die departement begin egter oor twee weke met ’n ondersoek om die oorsprong daarvan vas te stel, het Keet gesê.
Hy het verder gesê die departement gaan in die volgende twee jaar R500 000 bestee om vas te stel wat die voortdurende massa-visvrektes veral in die Vaalrivier Barrage veroorsaak.
Dit is die eerste keer dat so ’n groot hoeveelheid vis in die Vaaldam vrek, het Keet gesê.
Die enkele babers en geelvis wat ook gevrek het, was geïsoleerde gevalle, het Keet gesê.
Luidens die voorlopige uitslae was die karp met die virus geïnfekteer en was hulle onder geweldige stres. Temperatuurskommelings – warm en koue dae wat op mekaar opgevolg het in Desember – het die visvrektes aangehelp.
Die departement het die Universiteit van Johannesburg by die ondersoek betrek. Werknemers van die universiteit het verlede week lewendige vis in die Vaaldam gevang om te ontleed. Dié vis was ook reeds met die virus besmet.
Keet het gesê die departement het reeds konsultante aangestel om die dele van die Vaalrivier te moniteer waar gedurige visvrektes voorkom en volledig te bestudeer. Sowel die water as die vis in die Vaalrivier sal voortdurend getoets word.
Massa-visvrektes kom die afgelope twee jaar gereeld in die Vaalrivier Barrage voor. Redes daarvoor word dikwels aan riool- en chemiese besoedeling toegeskryf, maar wetenskaplike bewyse daarvoor is nog nooit gevind nie.
*KHV is ’n virus wat deur koi-visse oorgedra word. Karp is familie van die ornamentele koi-vis.