Het die volgende in vannoggend se Beeld gelees:
Water net in 8% van rade veilig vir drink
May 13 2009 08:29:35:070PM - (SA)
Elise Tempelhoff
In net 22 van die land se 284 plaaslike owerhede kan die inwoners met vrymoedigheid kraanwater drink.
Me. Buyelwa Sonjica, nuwe minister van waterwese en omgewingsake, het dié 22 eergisteraand in Port Elizabeth met ’n “blou druppel” vereer vir hul watergehalte, bestuur van drinkwater en die instandhouding van aanlegte.
Mnr. Leonardo Manus, hoof van drinkwatergehalte in die departement van waterwese en omgewingsake wat die verslag The Blue Drop Report 2009 bekendgestel het, het gister gesê die regering sal “ferm” optree teen plaaslike owerhede en waterrade wat nie aan die drinkwaterstandaarde voldoen nie.
“Strafregtelike vervolging is nie uitgesluit nie,” het hy gesê.
Die Wes-Kaap en Gauteng spog met die meeste plaaslike owerhede wat bloudruppelstatus gekry het.
Manus het bygevoeg die plaaslike owerhede wat nie ’n blou druppel, of 95%, vir hul drinkwatergehalte kon kry nie, sal fyn dopgehou word.
“Die owerhede wat 95% gekry het, het uitstekend gevaar. Dié wat ’n bie?tjie swakker gevaar het, het nie noodwendig misluk wat watergehalte betref nie omdat die regering die plaaslike owerhede en diensterade se prestasies teen verskeie kriteria gemeet het.”
Die nasionale gemiddelde is 93,3%. Dié gemiddelde is verkry nadat 3 000 watermonsters oor etlike maande op verskeie plekke in die land geneem is. Ander faktore, soos bekendmaking van inligting en die instandhouding van infrastruktuur, is ook in berekening gebring.
Volgens Manus is die teiken 97% en is daar by veral plaaslike owerhede in Limpopo en Mpumalanga groot uitdagings om dié mikpunt te bereik.
Manus het gesê dit beteken die kraanwater in Suid-Afrika is steeds veilig, hoewel sommige plaaslike owerhede, soos dié van Ventersdorp, Noordwes, 0% gekry het en Memel, Warden en Vrede in die Vrystaat net 18,5%.
Hy het beklemtoon sommige plaaslike owerhede het so swak gevaar omdat hulle nie inligting bekend gemaak het nie, hul monitering swak was of hul infrastruktuur nie behoorlik in stand gehou word nie.
“Dit beteken nie noodwendig hul kraanwater is onveilig nie.”
Luidens die verslag was dit noodsaaklik om regulasies en vereistes vir Suid-Afrika se drinkwater op te stel sodat die burgerlike gemeenskap se vertroue in die land se kraanwater herstel kon word. Die vertroue is geskaad weens die uitbreking van cholera vroeër vanjaar en verlede jaar en die media wat “intensief” berig oor rioolsuiweringsaanlegte wat ingee.
Die 22 bestes
Die 22 plaaslike owerhede met uitstekende kraanwater:
· Groter Johannesburg
· Tshwane
· Ekurhuleni
· Groter Durban
· Potchefstroom
· Nelspruit
· Kaapstad
· George
· Caledon
· Plettenbergbaai
· Sandile (Oos-Kaap)
· Sundumbili (KwaZulu-Natal)
· Bloemfontein (Maselspoort)
· Peddie at Kings Lynn (Oos-Kaap)
· Primkop (Mpumalanga)
· Laxton (Noord-Kaap)
· Bitterfontein (Weskus)
· Plettenbergbaai
· Franschhoek
· Paarlberg
· Paradyskloof
· Worcester
Só het hulle gevaar
Gauteng: 74,4%
Plaaslike owerhede wat hier die swakste gevaar het was:
· Kungwini (Bronkhorstspruit, Cullinan, Rayton)
· Lesedi (Heidelberg), en
· Wes-Rand-distriksmunisipaliteit.
Vrystaat: 40,03%
Die regering het onvoldoende inligting ontvang van onder meer
· Mafube (wat Villiers en Frankfort insluit)
· Metsimaholo (Groter Sasolburg)
· Ngwathe (Parys) en 11 ander plaaslike owerhede
Limpopo: 40,82%
Onvoldoende inligting is van die plaaslike owerhede van Groter Se- khukhune, Mokgalakwena, Mookgophong en die Mopani-distriksmunisipaliteit en Thabazimbi ontvang. Polokwane het ’n gemiddelde van 70,5% en Musina 19,5%.
Noordwes: 39,9%
Net Potchefstroom het aan al die vereistes voldoen. Ventersdorp het 0% gekry omdat geen inligting bekend gemaak is nie.
Mpumalanga: 51%
11 plaaslike owerhede, waaronder Gert Sibande (Ermelo, Secunda, Bethal en Evander) het min inligting verskaf oor hul watergehalte.
KwaZulu-Natal : 73% ; Wes-Kaap : 60% ; Oos-Kaap : 54,33%; Noord-Kaap : 28,3%
Verskaffers wat min inligting gegee het:
· Nokeng Tsa Taemane, wat water oor provinsiale grense verskaf
· Magalieswater, wat water aan onder meer Roodeplaat, Kameeldrift en Rus de Winter verskaf.