Jaaiks! Die artikel verskyn op Die Burger se website, maar hulle noem nie die wyn by name nie. Weet iemand dalk watter wyn dit is?
Tjeers
Gifstowwe in SA wyn
PIETER MALAN
27/03/2008 09:33:21 PM - (SA)
LONDEN. – ’n Suid-Afrikaanse wyn wat in Stellenbosch geproduseer is, is deur ’n Europese organisasie uitgewys as een van 34 wyne wêreldwyd wat gevaarlike gifstowwe bevat.
Die studie, deur die Pesticide Action Network Europe (PAN-Europe), ’n organisasie wat homself beywer vir die gebruik van minder gifstowwe op landbouprodukte, sê hul studie toon wyn word “stelselmatig besmet” en dat dit ’n wêreldwye probleem is.
Die Suid-Afrikaanse wynbedryf sê egter die vlakke van die twee swamdoders wat in ’n bottel wyn van ’n Stellenbosse produsent gekry is, is aansienlik laer as die internasionale minimumvlakke vir dié spesifieke stowwe.
PAN-Europe het 40 bottels wyn ontleed – 13 uit Frankryk, tien elk uit Duitsland en Oostenryk, drie uit Italië en een elk uit Australië, Chili en Suid-Afrika.
Altesame 34 van dié wyne het die residu van altesame 24 verskillende gifstowwe wat op die druiwe gespuit is, bevat. Sewe hiervan is moontlik kankerwekkend en ’n verdere vier word deur die Wêreldgesondheidsorganisasie as “gevaarlik” beskryf.
Die Stellenbosse wyn het die residu van twee swamdoders, dimetomorf en flusilasool, bevat. Laasgenoemde word deur die Europese Unie as kankerwekkend beskryf en kan die reproduksie van selle beïnvloed. Die organisasie wou egter nie sê watter produsente se wyn getoets is nie.
’n Woordvoerder van PAN-Europe, mnr. Elliott Cannell, sê hul doelwit is om die aandag te vestig op ’n wydverspreide probleem in die wynbedryf.
“Dit sou gemeen wees om individuele produsente – van wie sommige al geslagte lank in die bedryf is – se besighede te vernietig deur hulle te identifiseer,” het Cannell gister aan Die Burger gesê.
Mnr. Jacques Rossouw, hoof van Geïntegreerde Produksie van Wyn (GPW), ’n Suid-Afrikaanse produsente-organsisasie wat hom beywer vir volhoubare wynproduksie, het gister gesê die bedryf en die departement van landbou doen gereeld toetse om te verseker dat Suid-Afrikaanse druiwe en wyn aan interna sionale standaarde voldoen.
“In tien jaar van gereelde toetse het die GPW en die departement van landbou nog nooit ’n enkele geval gevind waar wyn of druiwe met onaanvaarbare hoë vlakke van gifstowwe besmet was nie.”
Rossouw sê die vlakke van dimetomorf en flusilasool wat deur die PAN-Europe gekry is, is baie minder as die strengste neergelegde minimum vir dié middels in enige wynproduserende land.
“Natuurlik is dit nie lekker as een van ons wyne op so ’n lys verskyn nie, maar aan die ander kant is dit onafhanklike bevestiging dat die toetse wat ons in Suid-Afrika het, wél werk. ’n Mens kan jou tog net meet aan ’n riglyn wat wetenskaplik bereken is.”
PAN-Europe sê druiwe is een van die mees besmette voedselprodukte in Europa. Hulle sê in die verlede het wingerdboere relatief onskadelike anorganiese swael as swamdoder gebruik. Ná 1993 het die gebruik van swael egter drasties afgeneem soos Europese boere na gevaarlike sintetiese swamdoders oorgeslaan het.