BRANDFORT. – Met sy roeibootjie en visstok in die hand het mnr. Frans Posthumus, Maandag die hoofstraat op die dorp ingevaar om te probeer om die munisipaliteit se aandag te trek.
Vloedwaterkanale in al die strate in die middedorp is met vullis verstop nadat stakende munisipale werkers verlede week in optogte vullishouers omgekeer en vullissakke in die strate uitgegooi het.
Posthumus sê die strate, en veral Voortrekkerstraat, was Maandag ná die eerste reënbui damme water en het ’n groot deel van die dag so gebly, omdat die water nie kon wegvloei nie.
Niemand kon gevolglik in die straat voor sake-ondernemings parkeer en sake doen nie.
Hy sê spottenderwys die dorp het nie drinkwater nie, “maar aan opgaardamme (in strate) is daar geen tekort nie”.
Die dorp kry sy rouwater met ’n pypleiding van die Erfenisdam by Theunissen af. Dié pypleiding is egter so vrot dat dit gereeld breek. Verder lek dit so dat boere se plaasdamme oorloop.
Ná ingryping deur Posthumus is daar ten minste nou pogings deur die departement van waterwese om die dorp se watersuiweringsaanleg, wat inwoners soms dae lank sonder water laat, reg te maak.
- Volksblad