Marius Bezuidenhout
Posts : 836 Reputation : 0 Join date : 2009-01-29 Age : 57 Location : Bloemfontein but mostly somewhere else
| Subject: Ouma, die ram en die Ford Fri Apr 23, 2010 10:44 am | |
| Charles Smith, Volksblad
Bloemfontein - Die storie van die ouma met die groot ram op haar skoot op die agtersitplek van ’n Ford Sierra is g’n wolhaarstorie nie.
Só vertel Pietman Claasen, merino-landskaap-stoetteler van Petrus Steyn.
En hy sal weet, want hy’t dié ding met sy eie oë aanskou.
Hy lag nou, vertel hy, maar dinge kon lelik uitgedraai het vir die ouma.
Die storie het goed begin toe ’n man hom bel om ’n ram te koop.
“Hy vra vir my hy soek ’n groot ram, is my ramme groot? Ek sê ja, dis ’n landskaap. Hy’s groot. Hy sê dis reg, hy kom koop.”
Die neukery het begin toe die man, ’n hoewe-boer, met sy Ford Sierra-tweedeur op die plaas Paradys opdaag. En in sy kar is pa, ma, seun én ouma.
Iemand wat weet dat ’n landskaapram alleen ’n bakkie volstaan, kon voorspel het hier kom pêrre.
“Ek vra of hy net kom kyk na die ram. Nee, sê hy, hy kom hom laai. Ek bly stil. Die ouma hyg ook so na asem en ek verwag sy kan enige oomblik iets oorkom.”
Die koper het sy ram uitgesoek – ’n gróót ram – en daarmee na die Sierra gemik.
Die ouma moes eerste inklim en haarself op die agtersitplek tuismaak. Die ram moes agter in die bak gelaai word.
“Ek vra: Wil hy hom nie eers vasmaak nie? Nee, sê hy, hy laai hom net so,” vertel Claasen terwyl die nasionale landskaapskou op die Bloemskou aan die gang is. Hy moet homself inhou as hy die petalje beskryf.
“Die ouma roggel. Die volgende oomblik spring daardie ram oor die sitplek en beland bo-op die ouma. Toe skreeu die pa vir die seun: ‘Boet, vang daai ram! Keer, Boet!’ ”
Die ram van “maklik 140kg” is eindelik van die ouma se skoot af. En sy was juis nie lekker nie.
Die pa het ’n nuwe plan beraam: Die seun moes langs ouma gaan sit en die ram dié keer vashou.
Toe ry die gesin met die Ford Sierra daar weg. Met hul ram.
“Drie weke later bel die ou my,” vertel Claasen: “Hy sê man, dis die beste ram wat hy nog gehad het. Die ram het al sy buurman se ramme op die hoewe doodgestamp.”
Die groot ram moes klaarblyklik as ’n soort stormram in ’n kwaaivriendskap op die hoewes dien. Claasen noem liefs nie die dorp nie.
En die ouma?
“Hy’t nie gepraat dat die ouma dood is nie. Of sy seergekry het? Ek het liewers nie gevra nie. Ek moet jou sê ek was te bang!” |
|